Is dit die Media se Taak om Persone of Groepe Skuldig te Bevind?

Watter tiepe “ondersoek” is dit as net die een kant se berigte gehoor word? Enige regdenkende persoon weet dat daar minstens twee kante van ‘n saak is. In u beriggewing verskyn net die beskuldigende kant. Dit walg my.
Van wanneer af is dit die media se taak om persone of groepe skuldig te bevind? Voordat die howe dit gedoen het? En nog te straf ook deur die hele land tot ‘n boikot op te roep? Dit spreek boekdele oor die betrokke instansies en hulle neutraliteit t.o.v. die waarheid.

Ek ken die sending al vir amper 40 jaar en weet dat oneindig baie mense deur hulle uit baie diep moeilikheid gehelp is. Dit sluit van die mense in wat nou so teen hulle gedraai het.  Ek ken ‘n hele paar mense van die sending se leierskap en glo nie ‘n woord van die beskuldigings teen hulle nie.

Doen u self die guns om regstreeks en sonder voorbehoud met hulle te deel as u enigsins belangstel om uit te vind wat werklik aangaan. Maar ek is nie oortuig dat dit vir u daarom gaan om die waarheid uit te vind nie. Die manier hoe die berigte op my foon verskyn laat my die indruk kry dat dit daaroor gaan om meer en meer “subscribers” te kry en dit deur smeerkampanjes.

Hoe sal news24 lyk wanneer dit eendag uitkom dat dit alles vals beskuldigings was? Maar dalk tel integriteit niks teen ‘n groot getal intekenaars nie. Dis ongelukkig die indruk wat ek al hoe meer kry. Ek wonder hoe slaap mense soos u nog snags met dit op u gewete (as daar nog iets daarvan oor is).

Ek wil ‘n beroep doen op u om op te hou om ongetoetste berigte oor die sending te plaas. U kan uself skuldig maak aan die verspreiding van valshede.

Groete,
Angelika Böhmer
Pretoria